Wees ‘n goeie Passasier

Onder die motorfiets-geledere is daar baie dames wat dié leefstyl geniet sonder om ooit hulle eie ryding te hê – hulle is die passasiers, oftewel die agterryers. Om ‘n goeie passasier op ‘n motorfiets te wees, behels vaardigheid en konsentrasie; dalk is jy al gesout in die kuns, maar dit kan tog die moeite loon om die wenke wat hier aangestip word, noukeurig deur te gaan – dalk is die persoon saam met wie jy ry, te skaam om jou te sê wat om te doen of nie te doen nie.

‘n Vaardige agterryer beskik oor die vermoë om:

  1. die beste vashouplek te identifiseer;
  2. jou bo-bene en knieë effektief te gebruik wanneer daar gerem of versnel word;
  3. vooruit te weet wanneer om ‘n hand op die brandstoftenk te plaas of die grypreling beet te kry wanneer hard gerem word;
  4. vooruit te weet wanneer om aan die ryer vas te hou tydens vinnige versnelling;
  5. weet wanneer jy kan ontspan en wanneer jy moet konsentreer (met jou aandag op die rit in plaas van om die natuurskoon te bewonder);
  6. weet wanneer om iets vir die ryer te sê (leer “skreeu” as julle nie ge-bloutand is nie) en wanneer jou praatpoging sy aandag onnodig gaan aftrek;
  7. ‘n rugsak te dra sonder dat dit ‘n pretbederwende las vir jou is;
  8. so min as moontlik julle valhelms (helmets) teen mekaar te laat kap;
  9. lamboude vir minstens 80 km te verdra voor jy aandring op ‘n koppie koffie;
  10. die ryer in só ‘n mate vertroue te laat bykry in sy vermoë om draaie glad deur te seil dat hy jou permanent agter hom op die motorfiets wil hê. Ja, glo dit maar – motorfietse kan beter draaie vat met die gewig van ‘n agterryer wat die agterwiel meer klou-vermoë gee.

Praat met die ryer
Vind uit of hy al voorheen iemand saam met hom op die fiets gehad het, waar die beste vashouplek is, hoe hy wil hê dat jy moet vashou en hoe naby hy jou aan hom wil hê.

Waaraan om vas te hou
Die normale agterry-posisie hang van die fiets af, watter tipe rit julle aflê, jou grootte en hoe goed jy die ryer ken.

Toer Fiets
By verstek is die gaping tussen ryer en agterryer 100 – 300mm, afhangende van die tipe sitplek en of daar ‘n aparte agtersitplek is. Leun effens vorentoe en hou liggies aan die sykante van sy baadjie vas. As daar gordels of lussies is, gebruik dit vir vashouplek. Gebruik jou knieë om sag maar stewig die fiets én die ryer se heup-/boud-areas vas te knyp; jy sal uiters selde nodig hê om jou posisie tydens normale en gematigde rytoestande te verander. Wanneer hard gerem word, gebruik jou hand om die grypreling vas te hou – dis presies waarvoor dit gemaak is! Onder vinnige versnelling moet jy jou arms verder om sy middel laat strek om stewig vas te hou. (Klaar dit vóór die aanvang van die rit met hom uit, sodat daar nie misverstande is nie – veral as dit iemand anders se metgesel/vriend/man is saam met wie jy ry!)

Luilekker Fiets
Cruisers het gewoonlik ‘n heerlike, groot agter-sitplek, dikwels nog toegerus met ‘n “sissy bar” (rug stut) ook, wat niks anders as ‘n pasgemaakte rugleuning is nie – daarby bied dit ook lekker vashouplek. Jy sal waarskynlik nie méér hulp as dit nodig hê om gemaklik en veilig te wees nie.

Sport Fiets
Hierdie tipe fietse verg die meeste konsentrasie om na behore jou sit te kry en te hou. Die ryer gaan na alle waarskynlikheid blitsig ry, probeer spog en heel moontlik ook nog sy knie op die teer probeer sleep. As jy dom genoeg is om op te klim, is jý tien teen een die een wat hom aanhits. Ek veroordeel dit nie – geniet dit net!

Om gemaklik agter-op een van dié fietse te ry, moet jy liefs korter as 1.5m wees. Die beste posisie is styf teen sy rug, asof jy sy rugsak is. Indien die geluk aan jou kant is, sal daar ‘n grypreling wees waaraan jy kan vasklou. Wanneer jou arm moeg word van dié klouery, ruil jou arms (want jy gaan dit net met een hand op ‘n slag regkry) wanneer dit veilig is, soos byvoorbeeld by ‘n verkeerslig. Die ander arm moet styf om sy lyf gehou word om die vinnige versnellings te kan geniet sonder om af te tuimel. Jou knieë moet soos klemme om sy heupe en bo-bene wees – geen plek of tyd vir skaamwees hier nie!

As hy alles tot die uiterste uithaal met sy ryvermoë, laat die hand wat om sy lyf is na vore draai sodat jou handpalm teen die tenk kan druk om te verhoed dat jou volle gewig teen hom stoot. Dit sal hom baie verligting geen van die reeds erge stremming op sy arms om die fiets te beheer. En straks is dit vir hom lekker om jou lyf so styf teen hom te voel ook.

Die leunhoek (in draaie)
Jou liggaam moet altyd saam met die fiets beweeg. Sodra jy gewoond raak aan die heen-en-weer leun in die draaie, sal dit heel normaal voel. Moet egter NOOIT die leunhoek probeer verklein deur regop te sit omdat jy dink julle gaan nie die draai maak nie. Aanvaar maar dat dit die sekerste manier is om te verhoed dat die draai veilig geneem kan word. Vertrou die ryer se vermoëns en onthou dat motorfietse baie verder kan oorleun as wat ‘n mens gewoonlik dink – kyk net ‘n slag na ‘n wedren en sien hoe laag daai ouens leun. As jy nie die ryer se vermoë vertrou nie, moet dan nie opklim nie!

In bogenoemde posisie op ‘n supersport fiets, het jy geen keuse as om te gaan waar die ryer gaan nie. Probeer dit gerus op ander tipes fietse ook as jy nie gemaklik en veilig voel nie – om styf teen die ryer te sit is die beste manier om in harmonie saam met hom en die fiets te leun.

Kommunikasie
As julle nie oor ‘n interkom beskik nie, bepaal vooraf ‘n stel tekens en gebare wat gebruik kan word vir basiese oordrag van inligting. Enkele voorbeelde:

  1. Tik op die middel van sy rug = “Ry vinniger, ek’s verveeld”
  2. Tik op die regterskouer = “Kyk regs”
  3. Tik op die linkerskouer = “Kyk links”
  4. Tik vinnig op mekaar aan sy been of sy = “Ek is bang, ry asseblief stadiger”
  5. Gee hom ‘n stywe druk = “Dis lekker, dankie! Hou aan ry”

Nou ja toe daar het jy dit, geniet die rit maar beter nog, kry jou eie yster perd en kry die wind eerstehands van voor af!