Tweewiel veiligheid deur die oë van ‘n Instrukteur

Hein – kan jy ons ‘n kort oorsig gee van hoe lank jy al ‘n biker is en hoe lank jy al betrokke is by die opleiding van motorfietsryers?

Ek ry al aan en af vir die afgelope 35+ jaar, vandat ek 14 jaar oud was. Ek het begin deur by ‘n vriend te leer in ‘n myngemeenskap, dom-onnosel sonder helmet of die regte klere in die bosse rondgery om te verken en te jag. My eerste blootstelling aan opleiding was in Rhundu gedurende my militêre diens in 1987-1988, toe sommige offisiere met Honda XL350R’s uitgereik is. Dis waar dit eintlik begin het. Sedertdien het ek moeite gedoen om op hoogte te bly oor opleiding en die ontwikkeling van nuwe vaardighede en om dit dan met vriende te deel. Amptelik het ek eers in 2004 ander ryers begin oplei en later, in Januarie 2006, op ‘n meer permanente basis toe ek Bike Talk begin het.

Wat verkies jy – om te praat van Bikers of Motorfietsryers, en hoekom?

Bikers hou daarvan om Bikers genoem te word; Motorfietsryers verkies weer Motorfietsryers. Daar is ‘n persepsie dat Bikers die “patch”-draers is, en dat Motorfietsryers die meer privaat indiwidue is wat verkies om nie aan ‘n klub te behoort nie. Beide is natuurlik ware geesdriftiges met ‘n gemeenskaplike belangstelling, naamlik om motorfiets te ry. In sekere gevalle het die term “biker” ‘n negatiewe konnotasie en stigma, aangesien Jan Publiek dalk ‘n onaangename onderonsie met iemand op ‘n motorfiets gehad het. Daar is ‘n algemene opvatting by die publiek dat bikers jollers, drinkers, rebelle en bakleiers is, en dat hulle denkraamwerk ernstige aandag benodig. Persoonlik verkies ek “Motorfietsryer” bo “Biker” – dit is nie intimederend nie en dui op die passie wat die ryer vir die sport en lewenswyse van motorfietsry het.

Hoe belangrik is ondervinding vir die veiligheid van ryers op die pad?

Ek sê altyd vir my studente: “Opleiding leer jou die tegniek om vaardigheid te bekom en wanneer dit toegepas word, gee dit jou die selfvertroue om ondervinding op te doen.” Dit is so dat verkeerde ondervinding ‘n langdurige negatiewe invloed kan hê, maar wanneer dit met opleiding reggestel word, het dit ‘n baie positiewe invloed, nie net op die ryers nie, maar ook vir die ander padgebruikers.

Sou jy sê volgehoue opleiding en gevorderde bestuurskursusse is belangrik vir ryers, en hoekom sou jy so sê?

Om iets in ‘n boek of ‘n video te leer, is een ding – dit sal egter nooit die praktiese leiding van die geoefende oog van ‘n kenner ewenaar nie. Ek beveel altyd by ryers aan om ‘n opknappingskursus op gevorderde vlak te deurloop elke keer as hy of sy ‘n nuwe fiets koop, of ten minste een maal per jaar en beslis ná ‘n ongeluk of insident. Selfs instrukteurs moet hulself aan gereelde opleidingswerkswinkels onderwerp om nuwe vaardighede en opleidingsmetodes aan te leer. ‘n Mens is nooit te oud om te leer nie – die aanleer van nuwe en die opskerp van gevestigde vaardighede vermeerder selfvertroue en maak van jou ‘n veilige en denkende ryer. Lewensdekking is nie voldoende nie; opleiding is belangriker. Hoekom ‘n eis instel as jy dit kan vermy?

Wat sou jy sê is die bydraende faktore by die meeste ongelukke waar motorfietse betrokke is?

Ek is al dikwels gevra om praatjies en aanbiedings te lewer oor motorfietsveiligheid, soms wanneer ‘n klub of groep een van hulle lede in ‘n ongeluk verloor het. Die meeste ryers blameer summier die ander padgebruiker, so my eerste vraag is: “Hoe vinnig het die ryer gery?” of “Het hy of sy enige opleiding gehad?”. Onmiddellik versomber die gesigte, want niemand wil die waarheid van hierdie tipe vrae erken nie. Ek sal moet erken dat in die meeste gevalle spoed die grootste bydraende faktor is, gepaardgaande met ryersfoute soos ‘n gebrek aan voorkomende optrede om die ongeluk te vermy – die spoed waarteen gery is en die afwesigheid van vaardigheid om betyds te reageer of die gevaar te vermy, ten opsigte van die spoed waarteen gery is. ‘n Algemene besprekingspunt onder bikers is hoe vinnig hulle fietse kan ry; gekonfronteer met die vraag hoe vinnig hy teen daardie spoed tot stistand kan kom, is die oopval van die mond en die onkundige “Huh?” wat die antwoord op jou vraag is, sprekende bewys van die groot aantal motorfiets-sterftes op ons paaie.

Is die onervare ryer baie meer gevaarlik as die ervare maar oormoedige ryer?

Ek is van mening dat die onervare ryer eerder ‘n gevaar vir homself is – byvoorbeeld wanneer hy stadiger as die normale verkeersvloei beweeg, teenoor die oormoedige, ervare ryer met sy houding en denke. Die onervare ryer sal heel moontlik graag wil kennis en ervaring bykry, maar die ervare onverskillige dink hy weet reeds alles. Te veel van ‘n goeie ding hou nie lank nie; dit raak bederf en vrot weg, omdat dit nie vertroetel en gevoed word nie. ‘n Oormaat selfvertroue sonder dissipline maak van jou ‘n arrogante ryer – ‘n aanslag wat ons nie op ons paaie nodig het nie.

Wat is die mees algemene foute wat jy onder ryers waarneem en hoe kan dit reggestel word?

Hierop sal ek moet sê “Voldoende waarnemingsvermoë”. Vra enige ryer wat van punt A na punt B ry om jou besonderhede van struikelblokke, padtekens, padoppervlakte, verkeer, ens. te gee en jy sal uitvind hy het die meeste daarvan gemis; selfs die ervare ryers dop hierdie toets. Ryers sit in die verkeer terwyl hulle aandag elders is, óf daar waar hulle was óf by hulle bestemming wat nog bereik moet word. Ryers is daaraan skuldig dat hulle kyk maar nie sien nie – daar ís ‘n verskil! My raad is dat elke rit, hoe kort dit ook al mag wees, ‘n leer-ervaring moet wees. Die ryer moet hardop in sy helmet elke voetganger, voertuig of struikelblok wat hy teëkom, noem vóórdat dit in ‘n noodgeval ontaard. In Engels is daar ‘n akroniem vir “Search, Evaluate, Execute” (S.E.E.) wat altyd toegepas moet word om nóg ‘n dag te kan leef en ry.

[Afrikaanse moontlikheid: “Soek, Evalueer, Voer uit” (S.E.V.)?]

Kan jy ons ‘n kort oorsig van ‘n tipiese dag se opleiding vir ryers gee?

Oor die spektrum van vlakke wat ons aanbied, moet elke opleidingservaring opwindend, leersaam en lewensveranderend wees. Opleiding moet nooit vrreesaanjaend of gevaarlik wees nie, maar altyd die persoon se welstand voorop gestel hê. Uiteindelik wil ons dat die ryer terugkom vir nóg opleiding, met die vrymoedigheid om ons te eniger tyd te kontak vir raad en leiding. Die leerproses moet ‘n aaneenlopende, blywende ervaring wees.

Verskil die bedrewenheid wat ‘n mens vir die verskillende groottes en soorte fiets moet hê, beduidend van mekaar?

O ja! Jy sal dalk ‘n 125 kan ry en direk, sonder ‘n opknappingskursus, op ‘n 250 kan klim, maar jy sal beslis leiding moet kry om van ‘n 250 af na ‘n 600 op te gradeer. Daar is geweldig baie motorfiets tipes, met die gevolg dat jy nie sommer ‘n cruiser met dieselfde stel vaardighede as vir ‘n sportfiets kan beheer nie. Die dinamika t.o.v. krag en hantering verander na gelang van die tipe fiets en het telkens aanpassing nodig as jy van ryding verander. ‘n Fiets soos ‘n cruiser met ‘n lang as-afstand, stuur anders as ‘n kort as-afstand super sport-fiets. Selfs die ryposisie, handvatsels, versneller- rem-koppelaar reaksie, swaartepunt en voetkontrole kan ‘n drastiese verskil maak aan die wyse waarop jy die motorfiets beheer. Die ryer moet van dié sake kennis neem en opgelei word om hulle korrek te manupileer om telkens ‘n positiewe ryervaring te hê.

Wat is die beste raad aan ‘n ryer wat ‘n fiets aanskaf wat verskil van die een wat hy gehad het?

Praat met ‘n professionele motorfiets instrukteur, bly weg van vriende en familie wat slegte gewoontes het en woon ‘n opknappingskursus by, afhangend van die vlak van opleiding wat jy nodig het. Ons kry dikwels mense wat ons kursusse bywoon wat sowat 20 jaar gelede laas gery het, maar wat weer wil begin ry en ‘n fiets wil aanskaf of reeds aangeskaf het. Aan hulle sê ek “Mooi so!”. Aan die ander kant hoor ons egter dikwels van iemand wat jare gelede ‘n 750 of 500 gery het en nou ‘n 1300 of groter fiets wil koop, sonder om enige opleiding of opknapkursus te oorweeg. “Wat sal my vriende daarvan dink?! Ek sal dit kan doen!” My vriend, tegnologie het ontwikkel – meer as wat jy kan hanteer! Net ‘n opmerking aan die trotses en die bejaardes: Dis geen skande om opleiding te ontvang nie, maar om dit ná ‘n ongeluk te wil begin, is bietjie te laat.

Wat is die belangrikste oorwegings wanneer jy op stedelike paaie ry – in vergelyking met plattelandse paaie en die oop pad?

Ligging, tyd en roete! Weet waar jy ry, leer wat jy kan verwag in die spesifieke omgewing waarin jy jou gaan bevind – en as jy nie weet nie, vind uit! Niks goeds het nog ooit van blindelingse ryery gekom nie. Kennis van die omgewing, roete, padtoestand, weer, veerkeer en die tyd van die dag ens. is maar enkele dinge om in gedagte te hou voor jy die pad aandurf. Dit is van toepassing op enige tipe pad: stedelik, plattelands, of die oop pad. Kennelik het die term “stedelike oerwoud” werklike betekenis; oorlewing in enige oerwoud verg die regte ingesteldheid, toerusting en vaardigheid. Dinge soos baanposisie, volgafstand, die gereedheidsdekking van remme, koppelaar en versneller, verkenning, veiligheidsone en die bewusmaking van ander padgebruikers van jou teenwoordigheid, is van uiterste belang. Waar jy stilhou, hoe jy dit doen en waarvoor om te kyk voor jy wegtrek, vermyding van opeengehoopte voertuie en blindekolle is alles ewe belangrik. Ek probeer altyd eers ‘n roete per motor in ‘n gemaklike toestand ry om padtoestande en ander faktore na te speur alvorens ek dit per fiets aandurf. Dis nie altyd moontlik nie, maar moet tog oorweeg word indien die geleentheid hom voordoen; dit maak ‘n groot verskil. Die ander opsie is om jou roete op ‘n gereelde grondslag te verander, om te verhoed dat jy té bekend raak met die pad – dis net daar waar ‘n mens ophou leer. ‘n Nuwe roete bring ‘n meer gefokuste ry-ervaring en meesal ook ‘n veiliger een.

Wat sou die beste raad aan vroulike ryers wees – is daar aspekte wat hulle by uitstek van moet bewus wees?

Vroulike ryers (tweewiel-poppies?) kry dikwels ‘n “geërfde” fiets wat eers deur manlief of ‘n familielid gebruik is. Hulle word soms onder druk geplaas om by manlief of die groep by te hou. Die beste raad wat ek aan hulle kan bied, is: ry jou eie rit, neem jou tyd om te leer en moenie dat enige iemand jou vertel dat dit nie belangrik is terwyl jy dink dit is belangrik nie. Met die regte opleiding kan jy enige fiets ry wat mans ry, moenie oorhaastig wees nie en vertrou jou sintuie!

Wat sou die belangrikste 3 stukke toerusting of gereedskap wees waarsonder jy nie kan klaarkom nie?

Dis moeilik, want ‘n mens kan nie werklik kompromieë aangaan wat rytoerusting betref nie, maar as dit moet, sou ek sê ‘n goeie kwaliteit helmet wat goed pas, ‘n motorfietsryersbaadjie en volvinger motorfiets-handskoene. Ek is daarvan oortuig dat waar vel ontbloot is, dit bedek moet word; selfs jou nek tussen die kraag van jou baadjie en jou helmet. Ek besef dat begrotings soms kan knyp en ryers wil die beste waarde vir geld hê; vra die verkopende handelaar om kwaliteit rytoerusting in jou finansieringspakket in te sluit. Daar is altyd ‘n weg!

Wat sou jy sê is die mees verwaarloosde beskermingstoerusting?

Ek kom elke dag in aanraking met ryers wat duur fietse ry, maar met ‘n “koos”-helmet of ander goedkoop gemors op die kop sit, wat ek nie eers vir my hond sal gee om te dra nie. My eerste vraag is: “Hoe kan jou lyf sonder ‘n brein funksioneer?” en “Hoeveel waarde heg jy aan jou kop?”. Ek sien ook dikwels ‘n ryer met ‘n hoë kwaliteit helmet, terwyl sy vrou/meisie/kind ‘n minderwaardige ding moet dra wat hy vir minder as R500 opgetel het. Waar is die liefde daarin?

Oopgesig helmets bied geen beskerming aan die laer dele van die gesig of die kakebeenarea nie; tog is sommiges selfs sonder oogmasker. Die “koos”-helmets (dis nou die koos wat onder oupa se bed gestaan het) is nog erger, want hulle bied nog minder beskerming, behalwe dalk om te keer dat daar nie voëlmis op jou kop beland nie. Daar is geen beskerming vir die kante of jou agterkop nie. Hoekom nog die moeite doen? Moet net nie dat ek begin oor soorte en make nie – daar is duur helmets op die mark wat ver onder die nodige standaard is. Die meeste nuwe ryers staar hulle blind teen die kentekens en kunswerke op die helmet en negeer die veiligheidsaspekte ten volle. Die handelaar is soms maar net te bly om die kliënt te gee wat hy wil hê. Koop eers die toerusting en dan die fiets.

Wat is die belangrikste raad aan motoriste om ons motorfietsryers veilig te hou?

Sit die radio sagteer, leer die kinders wat “houd den bek” beteken, los die selfoon in jou sak/handsak en kyk vir mense op motorfietse. Hierdie beginsel werk beide kante toe, want “Deel die pad” kan nie eensydig deur net een groep padgebruikers gerealiseer word nie. Om te deel, moet van twee kante af kom. Motorbestuurders kan meer gefokus wees op dit wat buite hulle voertuie aangaan en minder hulle aandag laat steel deur dit wat binne die voertuig aangaan. As ek een oplossing kan voorstel, sou ek sê dat elke motorbestuurder eers ‘n motorfiets moet ry voor hy ‘n motor bestuur. Ek het al mense vir opleiding gehad wat daarna vir my sê dat hulle hele motorbestuurstrategie as gevolg hiervan ten goede verander het. Hulle is nou meer bewus van motorfietsryers as ooit tevore.

As daar ‘n verskeidenheid opleidingsentra in ‘n gebied is, waarna moet ryers kyk of oor navraag doen om te verseker dat hy professionele raad sal ontvang en hom veiliger op die pad maak?

Selfs met die beste kursusinhoud en opleidingslokaal, kan jy steeds slegte aanbieding ontvang. Hier volg ‘n paar wenke wanneer jy in die mark is vir ‘n ryskool:

  1. Besoek die opleidingsplek en gesels met die instrukteur(s) om ‘n gevoel van die instansie te kry.
  2. Gesels met mense wat hulle opleiding by die plek ontvang het en kry terugvoer oor hulle ondervinding.
  3. Kyk na die kursus wat aangebied word en vra vir moontlike verwysings.
  4. Besoek die instansie se webwerf en vind uit hoe hulle funksioneer, besprekings hanteer, ens.
  5. ‘n Foto is ‘n duisend woorde werd – kyk dus gerus vir ‘n fotogallery van vorige opleidingsessies.
  6. Praat met handelaars en vra wat hulle van die opleidingsinstansie dink. Hulle sal jou nie na ‘n slegte opleidingsplek stuur nie, aangesien dit hulle in ‘n slegte lig sal stel.
  7. Laastens, kyk of hulle sertifisering t.o.v. akkreditasie en aanbeveling deur versekeringsmaatskappye geloofwaardig is.

Dink jy daar is enige aspekte wat nie deur hierdie vrae gedek is nie en vanuit jou oogpunt tog gedeel moet word?

Ek dink alle egte instrukteurs sal gekrenk voel wanneer raad gegee word, maar deur die student geïgnoreer word en dan in ‘n ongeluk beseer word of, nog erger, omkom, omdat angs en groepdruk hom ondergekry het. Daar is geen haas nie, mense; dis nie asof die bank jou fiets die volgende dag gaan vat nie – neem jou tyd en leer uit jou foute sodra jy hulle gemaak het.

‘n Ander belangrike saak, veral aan beginners: begin met ‘n kleiner fiets soos ‘n 250, woon ‘n beginnerskursus by deur van die skool se opleidingsfietse gebruik te maak, dan ‘n tweede vlak kursus met jou eie fiets voor jy die oerwoud aandurf.Ry en doen ondervinding op vir 4-6 maande of 2000 km voor jy jou K53 bestuurstoets vir motorfietse bespreek. Woon ‘n lisensie  kursus by en wanneer jy jou lisensie kry, kan jy begin dink aan opgradeer na ‘n groter fiets. Dit is makliker om die toets op ‘n kleiner fiets te doen en dit gee jou tyd om ry-ervaring op te doen sonder dat jy deur ‘n groot fiets geïntimideer word.

Ry altyd binne jou vaardigheids vlak en -vermoë; die oomblik as jy jou vaardigheidsvlak oorskry, stel jy jouself bloot aan die onvermydelike. Vraag is: kan jy dit waarlik bekostig?