Sanie tot die Hel

Na 12 jaar se marteling op die skoolbanke het die tyd aangebreek om myself te ‘ontdek’, soos die tieners deesdae sê. Anders as meeste tieners wat dronk word en op tafels dans het ek en Minki, dis nou my motorfiets, die beste paaie gaan uitsoek, en êrens tussen 6100 km, meer as 2800m bo seevlak het ek wel myself gevind, en oh dit was die moeite werd!

minki-transalpDie hoogtepunt van my ontdekking was ironies genoeg ook die hoogste punt van die avontuur, en die was om bo op Sani te kom. Dis nie eens 80 km van Underberg af nie, maar die pad tot bo is een wat woorde nie kan beskryf nie. Dit voel skoon of mens net dieper en dieper in die berge in ry en aan die begin kan jy nie help om te wonder wanneer jy gaan begin op gaan nie. En na breë stukke gelyk grondpad volg daar skerper draaie, steiler hoogtes en meer klippe. Na die Grenspos is dit werklik uitdagend met bitter skerp draaie en baie steil hoogtes. Die uitkyk punte verras jou oë met pragtige berge, en hoe hoer  jy gaan hoe beter, tot jy heel bo is, waar die baie kouer as onder was, en jy nie kan help om soos Charlie Boorman of Ewan McGregor te voel wanneer jy besef wat jy bereik het nie. Na die foto’s en oppad af dan wonder ek wat voorlê…

Die Suurberge in die Oos-Kaap is nie heel bo op avonturiers se ry-lys nie, maar hulle moet beslis nie onderskat word nie. Daar is wel stukke waar jy mal word van al die klippe in die pad, maar dan is daar stukke waar jy weer soos die 8-jarige seuntjie in jou hart voel en as jy bo kom vir ʼn koue een is die uitsig glad nie te versmaai nie. Op die R400 wat na Jansenville toe gaan het ek in my lewe nog nooit so baie op ʼn motorfiets gebid soos daardie dag nie, want dit was net genade dat ek en my neef, op ʼn BMW F650 GS Dakar, nie geval het nie. Dit het die vorige aand en vroeg oggend gereën en alhoewel die pad droog gelyk het, was daar baie sagte en baie gladde klei modder onder dit. Eers in Jansenville, het ons vol gemaak en was weer op die pad, kamp toe.

Na die uitdagings (en gebede) in die Suurberge het ek en my neef besluit om ʼn rustige ‘cruise’ al lang die kus af te vat, en was dit nou vir jou lekker! Die pad na Van Stadens is werklik fantasties op 2 wiele en tussen Sardinia baai en Willows sien mens die see tussen wit sand duine en jy weet net vandag is ʼn goeie dag.

Om by ons volgende kamp te kom het ons al langs die kus verby die Tsitsikamma woude gery en van die N2 af gedraai, om ʼn stukkie agterpad te ry wat ons verby Nature’s Valley sou vat. Hierdie pad was een van drome met skelm draaie wat een na die ander vloei, en ʼn paar ‘dit-was-te-naby’ oomblikke . Hier het ek ook besef dat ʼn Transalp net so goed soos Rossi se moto-GP renfiets is, regtig! Verder was Knysna, Wilderness en Plet asemrowend, en al wat tussen ons en die groot voel paradys gestaan het was die Outeniqua pas. Dit was my 2de beste pad van die hele reis! Dit is uitdagend maar tog vergeeflik, pragtig, maar net soos met Lee-ann Liebenberg, moet jy eerder jou hande tuis hou.

My heel gunsteling pad van almal, en tot my verbasing, was die Hel, of eerder bekend as die Gamkaskloof. Jy ry eers tot by ‘die top’ waar jy verbaas is oor hoe koud dit is en soos jy verder af gaan raak dit al warmer. Dit voel of jy sweef tussen die draaie en ʼn vinnige glans in jou spieël slaan jou stom wanneer jy sien wat agter jou lê en voor jou vleg die pad tussen die klowe, en net daar besef ek hoekom dit die Hel is. Dit is hel lekker! Onder in die Hel is daar ʼn winkel met ʼn lieflike grasperk en bome.

Oppad terug het ons besluit om ʼn draai in Prins Albert te gaan maak, eerder as om direk kamp toe te gaan. Die pad af na Prins Albert laat my baie aan die Sewe-weeks poort pas dink, omdat jy heel onder in die skadu van die berge ry. Na ʼn vinnige stop by die ‘Bush pub’ om enige iets koud te drink was ons oppad en ‘2de waters’, een van die stroompies, het baie lekker gelyk! So in ware avontuur en skoolseun tradisie, was dit klere uit en in die water, en was dit nou vir jou lekker, tot op die punt dat daar ʼn gesin op gedaag het… Die eintlik baie vriendelike mense het na ʼn hele rukkie eers gery, en ons was sommer gou uit en oppad terug na die kamp

op-saniOppad terug Durban toe wou ons nie weer dieselfde pad terug ry nie en na bietjie beplanning het dit so uit gewerk dat ons oor Naude’s nek pas sou ry. Die plaaslike mense se woorde was as volg: “Die pas is onbegangbaar, en die riviere kan nie oorkruis word nie”. Waar meeste mense nou sou omdraai het ons besluit om vir dit te gaan! Dit was koud, nat, mistig en snot glad! Ons het beplan om tot by Kokstad te ry, maar na 2 keer se omval en gesukkel het tyd ons in gehaal en ons het in Maclear gebly. Die gawe dame by die gastehuis was stom geslaan om te hoor waar ons was, veral na haar seun gesukkel het om die pad met ʼn 4×4 te ry.

Wel nou dat ek weer veilig by die huis is en terug kyk op hierdie avontuur voel ek goed en reg vir die jaar maar met slegs een bekommernis. Wat gaan ek volgende doen?? Veilig ry!