Hoe om veilig met ‘n Bike te rem

Om jou remme reg te gebruik, is een van die belangrikste dinge wat jy op `n motorfiets moet leer doen. Hoewel nuutjies gewoonlik meer ingestel is op tegnieke soos verskuiwing en teenstuur, is die mees effektiewe manier om `n ongeluk te vermy, steeds die behoorlike gebruik van die remstelsel.

Hieronder is enkele algemene vrae oor hoe om veilig tot stilstand te kom:

Moet ek die voor- of agterrem eerste gebruik… of dalk altwee?
Balans (ewewig) is `n beslissende faktor in die dinamika van motorfietse; dis hoekom die meeste bikes afsonderlike voor- en agterremkontroles (-hefbome) het. Die meerderheid kundiges is dit eens dat sowat 70% van remwerk aan die voorwiel toevertrou moet word met die handhefboom wat aan die regterkantse handvatsel is. Die orige 30% word (met behulp van die regtervoetpedaal) aan die agterwiel oorgelaat. Voorremme vereis stewiger inset, aangesien gewig van die agterwiel na die voorwiel verskuif word as gevolg van vertraging van die fiets se momentum. Dit stel ook die voorwiel in staat om doeltreffender te rem; die agterwiel is onder hierdie toestand nie so styf op die pad vasgedruk nie en kan gevolglik maklik vasslaan en sleep – met die gevaar van verlies aan beheer. Die voorwiel is egter nou stywer op die pad vasgedruk en is dan minder geneig om te gly.

Remwerk volgens jou tipe bike?
Die 70/30 remverhouding hierbo verduidelik, kan effens aangepas word na gelang van die tipe bike wat jy ry: Cruisers en choppers kan meer agterwielrem hanteer, want as gevolg van dié bikes se ontwerp-geometrie, dra hulle meer gewig op die agterwiel; sportbikes se vurkstelsels is meer “regop”, hulle wielbasisse is korter en daarom kan hulle meer remwerk deur die voorwiel hanteer. “Dirt bikes” se voorremme word selde gebruik as gevolg van die los oppervlaktes waarop hulle gebruik word. Ervare ryers op dié bikes hou daarvan om spoed te verminder deur die agterwiel te laat uitgly – `n effektiewe (en spoggerige) manier!

Hoeveel vingers?
Die eenvoudige antwoord wat ek aan al my studente (of enige iemand anders wat belangstel) gee, is: 4 vingers is `n yslike nee; 3 is vir sissies, 2 is genoeg en 1 vir grond as jy rêrig moet. Met twee vingers trek jy die hefboom egalig en aanhoudend tot jou fiets tot stilstand kom; moet NOOIT die rem gryp nie; moet ook nooit ABS probeer naboots deur die remme te “pomp”nie. Hoe dringender die situasie, hoe vinniger en fermer trek jy die hefboom in. Hou jou oë en kop op en stut jou gewig teen die handvatsels om te voorkom dat jy vorentoe geslinger word terwyl jy die 70/30 reël toepas.

Die leunhoek saak
Bande is mees effektief in die regop posisie – hou dit in gedagte voor jy jou fiets oorleun. Kom ons aanvaar dat `n band 100% kleefkrag het wanneer dit `n hoek van 90˚ met die pad vorm; sodra daardie hoek verklein, verminder die kleefkrag van die band. Indien die voorrem te hard gegryp word terwyl die wiel regop is, sal dit tien teen een nie vasslaan of gly nie, maar as jy dieselfde doen terwyl die wiel skuins lê, kan dit die voorwiel laat “induik” as gevolg van die verminderde kleefkrag en sodoende `n glyval veroorsaak. `n Mens kan wel die remme in `n draai gebruik, maar jou fiets is sal minder verdraagsaam wees met remaksies terwyl dit skuins lê. Wees super aandagtig as jy moet rem in `n draai; probeer eerder om al die remwerk af te handel vóór jy in die draai ingaan.

Wees bedag op pad toestande
Verskillende oppervlaktes vereis verskillende remtegnieke – gebruik die voorrem met groot respek as die klouvermoë nie waffers is nie. Deur die voorwiel te laat vasslaan is die sekerste manier om beheer oor jou fiets te verloor; om die agterwiel te laat vasslaan, hou ver minder gevaar in. Die moontlikheid dat óf die voorwiel óf die agterwiel uitgly, word in groot mate bepaal deur die kwaliteit van die oppervlakte waarop jy ry.

Gebiede waar oliekolle kan voorkom, moet met groot ontsag benader word. Hierdie hoë-risiko gebiede sluit in kruisings, tolhekke en parkeerareas. Hou jou agterrem deels in waar jy gladde oppervlaktes vermoed – dan sal jy `n rugsteunplan hê indien jy die voorwiel voel uitgly. Dit verg blitsige reaksies, so bly bedag op gevaar en onthou dat dit baie makliker is om van `n agterwielgly te herstel as van `n voorwielgly.

Hierdie beginsels word verskerp as dit by veldry kom – veldfietsry benodig nie die voorrem nie. As jy dus daaraan dink om van die pad af te gaan rondrits, kweek die gewoonte aan om jou hand weg te hou van die voorrem, anders gaan jy meer grond proe as wat gesond is.

Wat van gekoppelde remme?
Heelwat scooters, toerfietse, cruisers en selfs sportbikes word toegerus met gekoppelde remme, wat ontwerp is om albei remme (voor en agter) met een hefboom te aktiveer. Sommige stelsels is slegs agter-na-voor gekoppel, terwyl ander in beide rigtings werk. Die doel bly egter dieselfde, naamlik om die raaiwerk met betrekking tot die keuse tussen voor- en agterrem uit die remaksie te haal. Hoewel die meerderheid ryers nie so gou tot stilstand kan kom sonder gekoppelde remme as ryers met gekoppelde remme nie, is hierdie stelsel nie altyd gewild onder hoë-verrigting entoesiaste nie.

Wat van ABS?
ABS (anti-lock braking system) is ontwerp om te verhoed dat wiele onder remkrag “sluit” en vasslaan; dit bespeur wielgly en “pols” die remme om te verhoed dat wiele gly. ABS stel die ryer in staat om maksimum krag op die remhefbome toe te pas, sonder die bekommernis dat die wiele gaan sluit en gly. Dit werk egter nie effektief wanneer die fiets oorgeleun is nie.

Al is dit moeilik om die stopafstand van `n ABS-toegeruste fiets op `n belemmerde padoppervlak te ewenaar, is nie alle ryers gaande oor gerekenariseerde ingryping op die remaksie nie. Daar is sprake dat ABS verpligtend gemaak gaan word vir alle motorfietse, maar die vir- en teenargumente kan maklik beëindig word as die vervaardigers ABS-toegeruste fietse van `n skakelaar voorsien wat die stelsel aan- en afskakel.

Hoe hard kan ek rem?
Om die fyner puntjies van behoorlike remaksies aan te leer, is die sleutel om jou fiets onder beheer te hou. Dit is dus goed om die perke van jou fiets se vermoëns in dié verband in `n veilige omgewing te leer ken. Oefen stoppe herhaaldelik in `n leë parkeerarea of ander geslote gebied, totdat jy weet hoeveel druk op die remhefbome nodig is om jou wiele te laat sluit. Oefen om met die voor- en die agterrem te stop; oefen om met altwee remme gelyk te stop; sodoende sal jy aanleer hoe om in noodstituasies te stop en wat jy van jou fiets kan verwag in sulke omstandighede.

Wanneer jy jou fiets se remme en hulle vermoëns leer ken het, sal die belewenis van gewigsoordrag na jou fiets se voorwiel ook meer positief beleef word. As jy hard genoeg die voorrem trek, sal die agterwiel selfs van die grond af lig; met die agterrem hard genoeg getrap, kan jou fiets begin gly. Jy sal ook agterkom dat jy kan wegkom met harder druk op jou remhefbome teen hoër snelhede. Ontdek die grense van jou remvermoë en jy sal beter voorbereid wees as die onverwagse gebeur. Of beter nog, kry opleiding in dié verband by `n motorfiets instrukteur.