Dit Ontwyk my

So `n paar maande ná ek my nuwe FZ1 gekry het en hy lekker ingeloop is, sit ek een oggend af Ladybrand toe. Dis nou van Bloemfontein af, waar ek `n paar lewensjare verduur het. Die pad was aan my heel onbekend (ek wou nie in Bloemfontein grootword nie, toe doen ek dit maar in Natal – en ja, dit was rêrig Natal toe ek daar grootgeword het). Hoe ook al, ek ry uit Bloemfontein uit, by die lughawe verby en ek wag gretig vir die spoedbeperking om opgehef te word. Dit het nou wel al net anderkant die gholfbane verander van 60 na 80 na 100, maar honderd kilometer per uur is straf op `n man se throttelhand, hy wil net agteroorknak, jy weet. Die pad is ongelooflik mooi, gemeet teen die res van ons land se paaie. Breed, geen slaggate en al die taxi’s gee vriendelik pad sodra hulle jou gewaar. (Dis nou maar jêm: ek weet nie of hulle al `n les of drie geleer is deur die duisende bikers wat dié pad gebruik nie, maar elke liewe taxi gee pad vir `n bike op daai pad!)

Toe ons by Botshabelo kom, is die spoedgrens steeds 100 km/h. TabaNchu verby, en dit bly op 100 km! Toe sou ek sien dat die pad nou nie meer so breed is nie; die slaggate is ook nie meer so afwesig nie en daar is nie plek vir geel strepe weerskante van die ryvlak nie – dáár is net klippe en bossies waar die teer sonder geel streep ophou. (Dis nou `n paar jaar gelede, vóór die nuwe pad gemaak is tot by die Maseru afdraaipad net duskant Ladybrand). Die voordeel van dié ou pad was dat ek tydens al my ritte op hom, geen spietkop gesien het tussen TabaNchu en Ladybrand nie. Die throttlehand het tóé geen krampe ontwikkel nie.

nommer-plaat-fsLater in Ladybrand terwyl ek my roereiers en niertjies en spek en toast en koffie by die restaurantjie reg-oor Eerste Nasionale Bank geniet, sit ek myself en verknies dat daai lekker breë pad tussen Botshabelo en Bloem, meer as 60 kilometer lank, weer op die terugtog voorlê en dit teen 100 km/h. Terwyl ek petrol ingooi by die Toyota garage (die enigste plek waar 95-oktaan petrol gekry word), sien ek `n mekêniek tussen die Fortuners en Land Cruisers in die vertoonlokaal van die garage. Opsluit stap ek na hom toe en vra of hy nie dalk vir my `n stukkie insolation tape het nie. Ja seker, sê hy en gee my `n rolletjie om self af te knyp. Gewapen met dié helderblou strokie, stap ek terug na die FZ1, hurk agter die nommerplaat in en verdeel die strook in twee – een vir die letters bo en een vir die syfers onder. Die FS los ek oop omdat die tape nie lank genoeg is nie.

Met die vermomming op die nommerplaat loop die bike sommer lekkerder. En die gewrig van die throttelhand sing van vreugde, want ek laat hom agteroorknak so ver as wat hy wil. Dié keer is die pad sommer baie korter, en gou-gou is ek op die breë weg tussen Botshabelo en Bloem. Die karre speel saam en maak wyd plek sodat ek kan verby ry.

Ek gaan oor `n bultjie met die pad steeds pylreguit voor my. Afdraande af en die Yamaha huil soos `n prairiehond. Dis toe dat ek twee bruin-geklede mense in die middel van die pad sien, arms swaaiend, bene reg om te hol as ek nie stop nie. Ek probeer kyk of hulle regterhande naby hulle holsters is, maar die tyd haal my in voor ek kan sien en toe is ek by hulle. Albei beduie só woes ek moet stop, jy sien net hande en tande. Toe stop ek maar.

Haal my helmet af dat hulle my gesig kan sien. Die FZ1 staan skeef op sy side-stand, maar dit lyk nog steeds of hy meer as 200 km/h doen. Ek groet vriendelik. Weet net nie hoe ek die spietkop moet aanspreek nie. En toe dink ek aan Tolla se storie oor die strepies op hulle skouers – een, dan kan hy lees, twee, dan kan hy lees én skryf… Dwing myself om nie te lag nie, want die een beampte het niks op sy skouer nie. Die ander, met allerlei goeters op sy eupelette en ‘n maag wat gesag spel, sê g`n woord nie en loop stadig om die bike. By aanskoue van die nommerplaat met die mekêniek se insulation tape versier, gaan staan hy botstil en sê wat is dié? Ek sê Luitenant, dit ontwyk my, maar in Engels roep hulle dit insulation tape terwyl ek hoop hy is nie `n kaptein of generaal nie. Hy trek die twee strokies af, plak dit op sy arm sodat hulle beskuldigend daar hang vir die hele wêreld om te sien. Dan haal hy `n boek uit en kliek-kliek sy Bic pen oop en toe. Hy stap weer stadig óm die bike tot hy die lisensieskyf sien, hurk daarby en baie surgvuldig skryf hy die gegewens in sy boek. Hy staan swaar op en gaan hurk weer by die nommerplaat. Een vir een gaan hy die letters en syfers na om seker te maak hulle stem ooreen. En toe gebeur daar `n ding waaroor ek nog eendag `n artikel wil skryf: die spietkop vat daai strokies insulation tape en sorgvuldig plak hy die letters en die syfers weer toe. Hy staan weer swaar saam met sy maag op, bêre selfvoldaan sy Bic en sê ry maar, meneer.

Dit ontwyk my hoekom ek hom nie gevra het wat sy kys is nie. Al wat ek kon uitpiep is Dankie Kaptein.

Ek sê jou dié storie is waar. En wraggies, eendag gaan ek nog iets daaroor skryf.

Opgeteken deur Woordenaar

Be the first to comment

Leave a Reply